ATKV

ATKV

Alhoewel onderrig by Edugate Academy in Engels plaasvind, is die ATKV baie aktief in ons skool en vind baie van ons kultuur-geleenthede onder die vaandel van die ATKV plaas.

Ons tak staan bekend as Radikaal en word gelei deur 'n bestuur wat bestaan uit 'n Voorsitter, Vise-Voorsitter, Tesourier en Sekretaresse. Ons bestuur word verder aangevul met vier addisionele lede om die organisering van projekte te vergemaklik. Hierdie bestuur neem die leiding by alle ATKV-takprojekte en die betrokke onderwyser tree slegs in 'n toesighoudende en fassiliterende hoedanigheid op.

Voorstelle vir opwindende en unieke projekte word reeds die vorige jaar voorgelê en daar word saam besluit oor watter projekte van stapel gestuur gaan word sodra die nuwe skooljaar begin.

Alle leerlinge vanaf graad nege is welkom om by die ATKV aan te sluit, ongeag taal of kultuurgroep. Dit is ook vir ons baie belangrik dat elke lid van die ATKV by ten minste een van die jaarlikse projekte betrokke is en ons bestuur maak baie seker dat dit wel geskied.

REDENAARS

Die ATKV-redenaars is 'n nasionale en jaarlikse gebeurtenis. Die nuwe temas per kategorie asook alle inligting aangaande beoordeling en kriteria is geredelik beskikbaar op die ATKV se webwerf, reeds voor die skool aan die einde van die jaar sluit.

Sodra die nuwe temas bekendgemaak is, word daar plakate in die skool opgesit en die onderwysers begin deelnemers werf onder hulle leerlinge. 'n Interne redenaarskompetisie word by die skool gehou om die deelnemers reeds vroeg al 'n bietjie blootstelling te bied. Verder neem ons dan ook aan die redenaarskompetisie tydens die jaarlikse Privaatskole-saamtrek deel, kort voor die nasionale kompetisie te Windhoek, plaasvind.

Om aan die redenaars deel te neem bied aan 'n leerder die geleentheid om hom- of haarself te ontwikkel ten opsigte van sy/haar vermoë om 'n opinie te vorm oor 'n sekere saak, standpunt in te neem en dit op 'n beredeneerde wyse te motiveer en te verdedig. Die vaardighede wat 'n leerling uit redenaars ontwikkel is onontbeerlik in sy of haar latere lewe - veral ten opsigte van leierskap.

IDIOMESTRYD

Die ATKV-idiomestryd word ook jaarliks aangebied en oor KANAAL 7 uitgesaai. Ons skop reeds vroeg in die jaar af met ons interne Idiomestryd. Alle leerders vanaf graad agt mag deelneem. Die prysgeld dien gewoonlik as goeie motivering vir gretige deelname en aan 'n groot gehoor wat lekker kan lag, het ons nooit 'n tekort nie.

Die vier wenners van hierdie interne Idiomestryd maak dan ook uiteindelik ons twee spanne op vir die KANAAL 7 - Idiomestryd waar ons dan die ander deelnemende skole in die land die stryd aansê.

Alhoewel meeste van die leerlinge en deelnemers nie deurdring na die finale rondtes nie, leer hulle onbewustelik van die idiomatiese gebruike van die Afrikaanse taal en bou hulle ook 'n baie waardevolle bron van inligting en voorbeelde op wat tot groot voordeel strek in hul skrywe hetsy dit vir n skryfkompetisie of in hul taalklasse.