Waatlemoenfees 2017 Securitas Edugate Prestige Laerskole Atletiekbyeenkoms Heildronk op mylpaal van 240 skoliere Sottekamp 2017 Edugate Lugfoto Jun CRS 2016 inisiatief
Edugate

You are here: Kultuur / Edu-Lit AFRIKAANS

Edu-Lit AFRIKAANS

Soms voel ek - Jessica McDonald Gr 10 Eerste prys wenner Griffel

Soms voel ek so groot

dat ek die heelal kan oopskeur

net om myself te vind

Soms voel ek so klein

ek tussen atome deur gly

en in dun lig verdwyn

Soms ek so fyn en klein

soos ‘n papierpop wat sal breek

met die kleinste aanraking

Soms voel ek so sterk
ek is die swaartekrag

wat die aarde instandhou

soms skyn ek so helder

nie eens die son kan met

my kompeteer nie

soms voel ek onsigbaar

soos vaal lig in die donker

Hoe kan ek een oomblik alles voel

en op ‘n ander niks?

ek weet nie wat erger is

om in water te verdrink

of om van dors te sterf.


Vir dogters om te weet ...

Nogal gewonder hoekom daar nou juis ‘n manspersoon besluit is om met julle dogters te praat.

By nadere nadenke besef mens dat dit nie so ‘n slegte idee is nie - ten spyte van klomp somers agter die rug is daar een eienskap wat ‘n man nooit ontneem kan word nie en dit is die eienskap van ewige jeug. Laat ek dit probeer verduidelik aan die hand van:

·Motors

·Meisies

·Die gesegde: “’n Ou bok hou van groen blare” sal en kan nooit vervang word met “‘n Groen blaar hou van ou bokke nie.”

Ek, en laat dit maar nou namens die mansgeslag wees, glo dat ons Hemelse Vader die vrou, vir jóú, m.a.w. met meer sorg geskape het. ‘n Soort spesiale afronding gebruik het.

Ek het deur die Bybel geblaai om hierdie eiesoortige stukkie in versvorm te probeer vind, maar ten einde laaste vrede gemaak dat ek dit nie kon kry nie. Wat wel waar en seker is dat daar baie meer oor die vrou as die man geskryf is. Miskien moet ek daardie eiesoortige skepping juis hierin raaksien.

Nou waaroor praat ons manne dan as dit gaan oor vroumensgoete. Miskien moet ek jou vra waaroor dink jy praat manne/seuns?

Kan ek vir jou sê dat dit nie om skoonheid of as jy wil, om mooiheid gaan nie. Hoekom nie? Skoonheid is ‘n lawwe geskenkie van die natuur - glans in die oë, rosemond en perskevel, met ‘n rapsie molligheid en stukkie slankheid, elkeen op die regte plek. Skoonheid is vir ons soos lelikheid, net nog ‘n eienskap, weliswaar miskien net ‘n meer aangename een. Skoonheid kan nooit ‘n verdienste wees nie, hoogstens ‘n erfenis. Skoonheid is die goed uitgemete verhouding van postuurmate teenoor mekaar, die reëlmatigheid van gelaatstrekke, die harmonie van uitelike voorkoms. Kan ek vir jou sê dat hierdie dinge nie eintlik bedink word as ons ook julle dink en van julle praat nie. As jy gedink het dit gaan hieroor, was jy nog altyd verkeer.

Mag ek ‘n paar dinge noem waaroor ons met mekaar praat en soms in ons allenigheid dink:

·Ons sê vir mekaar dat daar nie iets soos lelike vroue of meisies is nie. Daar is net vroue wat dit nie waat om mooi te wil wees nie.

·Ons sê dat vroue nooit met hulself tevrede is nie. Vroue wat hulle hele lewe lank ander bewonder en beny en nooit daaraan dink om self mooi te wees nie.

·As ons ernstig oor vrouens praat, dan praat ons nie oor vrouens se middeltjies of uurglaslywe nie. Ons praat hoe vroue met mollige heupe en krom bene dit regkry om so te beweeg dat ons daardie tekortkominge miskyk en vergeet omdat daar in die beweging soveel grasie is dat ons nie anders kan as om te dink en glo dat jy die gewig van ‘n engel het nie.

·Ons praat ligweg (soms ligsinnig) oor vrouens se mates en bates, maar as dit by versorging kom, dan sing ons ‘n ander deuntjie. Daardie meisie wat jou aan die varsgeplukte appel laat dnik, is nie mooi nie, sy is deksels mooi, ‘n versameling somersproete en platneus ten spyt. ‘n Versorgde meisie straal besliste sjarme uit: ‘n sjarme van onberispelike, geurige skoonheid.

·Ons praat van meisies/vrouens wat die kunsgrepies van mooimaak ken en dit keurig gebruik, sonder dat ons dink dit is aangeplak of oordrewe kunsmatig.

·Ons praat graag oor daardie meisies/vrouens wat ons sal verstaan en aanvaar. Daardie meisies wat ons lat voel ons is dapper, sterk en slim. Wat ons selfvertroue en geloof in onsself versterk: wat ons ongemerk laat voel dit is die moeite werd om na hoër en beter dinge te streef. Nie altyd die mooies nie, maar beslis ons bewonderaars.

·Ons voorspel graag hoe die eerste aand se uitgaan sal verloop of verloop het. As ons regtig ernstig met ons keuse is, sou ons nie saam met ‘n losbol wou uitgaan nie. Ons sou graag ‘n stukkie sjarme wou uitneem. Die kuns om ons te laat voel dit was die mooiste aand van haar lewe. Dit maak ons trots. As ons nog boonop die volgende dag ‘n briefie of ‘n oproep kry wat sê dit was ‘n onvergeetlike aand, dan beweeg ons wolke toe.

·Ons respekteer en ag daardie sjarmante vrou/meisie wat suinig is met haar soene. Wat dit nie sien as betaalmiddel of wisselgeld nie. Wat dit opspaar vir iemand wat lewenslank haar sjarme gaan besit en bewonder.

·Ons praat oor daardie vrou wat verskeie gemoedere onder een hoed kan saambring, wat dit nie vrywillig wou dra nie. Wie se sjarme ‘n simfonie skep sonder ‘n orkes.

·In ons mannekring salueer ons daardie vrouens/meisies wat meester is van die situasie, wat lief is, maar nie onnosel nie, wat verdraagsaam is, maar nie ruggraatloos nie. Julle is die mannetemmers.

So praat ons oor en van julle.

Jy kan die middelpunt van bg. mannegesprek wees want

·Kyk en dink aan die rots waaruit jy gekap is, die klipgroef waaruit jy gegrawe is.

(Jes. 51:1)

·Omdat jy uit ‘n besonderse klipgroef kom, kon jou meetsnoere op lieflike plekke geval het. Pragtige dele is vir jou afgemeet, wat jy ontvang het, is baie mooi.

(Ps 16:6).

·En nou lê jou toekoms voor jou. Jou menswees is solied , jou erfenis mooi, daarom sal mense jou nie onder kry nie en is jy in staat om teen perde te kan hardloop.

(Jer 12:5)

So praat ons graag oor julle.

Mnr Frikkie Louw (Toespraak: Moria dogters 2006).

My nagmerrie - Suné Gildenhuys Graad 6

Terwyl ek en n paar vriendinne oppad sportgronde toe gedraf het, het daar ewe skielik n paar mans ons begin volg. Ek en my vriendinne het vinniger begin draf. Die volgende oomblik voel ek net hoe hande oor my lyf kom en ek begin spartel maar niemand het kom help nie. Dit het net gevoel asof daar niemand op die aarde was behalwe ons nie. Die mans het ons dadelik in die kattebak gegooi. Ek het die een lig uitgeskop en probeer sien waarheen ons gaan .

Toe ons by n vreemde plek aankom ruk die mans die kattebak oop en gooi ons op die grond neer. Die mans het ons in n groot skuur ingevat en ons aan stoele vasgemaak. Toe hulle uit is en niemand na ‘n ruk terug kom nie, probeer ons om los te kom. Een van my vriendinne het los gekom en ons los gemaak.

Toe ons buite kom sien ons een van die seuns, wat ook in die koshuis is, daar lê. Ons het hom opgehelp en begin stap. Teen skemer het ons by ‘n ou verlate huis aangekom. Ons het besluit om nie verder te gaan nie, omdat ons te bang was dat ons sal verdwaal en ‘n plek reggekry om daar te oornag.

Die volgende oggend nog voor sonsopkoms het ons die pad koshuis toe aangepak.Ons het uiteindelik weer by die koshuis aangekom. Met die intrapslag sien ons weer die mans en ‘n klein hondjie met vurige rooi oë.Ons het dadelik na ons kamers gehardloop. Ons het opgemerk dat dele van die koshuis afgebrand was. In ons kamer sien ons weer die afskuwelike klein hondjie.

Ons skrik onsself boeglam, want ons het mansstemme wat nader kom, gehoor. Ons het dadelik onder ons beddens ingespring. Toe ons hoor dat die mans weg is, klim ons versigtig onder die beddens uit. Natuurlik was die hond ook daar en dit het verskriklik hard begin blaf. Die volgende oomblik bars die mans in die kamer in en gryp ons.

Agter ons skool is daar ‘n oop erf waarheen die mans ons lei. Ons sien die hele koshuis, self die personeel op hul mae, gesigte teen die grond en hande bo die kop lê! Daar staan mans reg rondom hulle met gewere. Na n tydjie, wat soos ‘n ewigheid gevoel het, kom die res van die mans daaraan.

Hulle forseer ons toe om in baie groot trokke te klim. Ons kom toe by ‘n hoë afgrond. Hulle sit my voor in die ry. Nadat almal uitgeklim het word ek per ongeluk afgestamp. Ek val wat soos ‘n ewigheid gevoel het, en toe ek ek met moeder aarde kennis maak, skrik ek wakker en bevind my op die vloer langs my bed.

Gelukkig was dit net ‘n nare droom!


Groot word Johané du Plessis Graad 7

Groot word is 'n slegte pil,

partykeer wil ek sommer gil.

As almal van jou iets verwag,

om jou beste te doen elke slag.

My ma sê altyd: Bly nog kind.

nou moet ek eerlik sê, dis wat ek vind,

sal nogal lekker wees......

om kind te bly in hart en gees.....

Groot word het sy voordele,

maar as jy tel, baie meer nadele.

Dis leer en werk en werk en leer,

en boonop maak iemand nog jou hart ook seer.

Nee wat, as ek kon kies - en ek sou graag wou -

dink ek groot word is bra flou!

Kind wees is lekker dit weet ek goed,

kind wees hardloop só deur my bloed!


Hoor jy my? Wiaan Louw Graad 8

Moenie by my graf staan en treur nie.

Ek is nie daar nie , ek slaap nie.

Ek is nie in n duisend winde wat waai

Ek is nie in die voeltjies se bohaai.

Ek is ook nie in die stof wat die ou vrouens so oor lawaai.

As jy mooi luister

Kan jy my hoor, in die reën.

Ek bring vreugde en ook seën.

Kan jy my hoor as ek fluister:

Moet nie by my graf staan en huil nie.

Ek is nie daar nie , ek is nie dood nie.



Rosina se Ysterheld Jamin van Zyl

‘Dwaal ek aan die anderkant van die dood rond?’ Rosina was altyd gefassineer deur die "anderkant". Haar geliefde, Jan Düring, het vir haar aandete in die hospitaal gebring. Sy het hoesend dankie gesê. Sy beleef brandpyne in haar keel en longe. ‘Help my Here… Die pyn is ondraaglik’, bid Rosina stil in haar pikdonker hospitaalkamer.

***

Rosina was n vrolike en avontuurlustige tiener, maar haar ambisie om skatryk te word, het veroorsaak dat sy haar kop in ‘n bynes steek. Sy ontmoet vir Jan Düring en was dadelik beenaf.

Sy was 'n opvoedkundige, maar het 'n dubbele lewe gelei. Sy het meer as een keer kasino toe gegaan en het elke keer kluitjies aan Jan verkoop. ‘Ek werk nagskof’ en ‘Ek gaan kuier by ‘n vriendin’ was algemene verskonings wat Rosina gebruik het om die huis te ontglip.

Rosina is verslaaf aan 'n man van staal. Sy komplekse mensdom het haar hart gesteel. Die geluid van geld wat in sy mond val, het haar hart vinniger laat klop. Sy was verlief op n metaalheld wat al haar probleme kon oplos. Sy sou troos by hom vind wanneer sy en Jan konflik gehad het.

***

Jan het bankstate ontvang met n nota wat die volgende inligting bevat:

Mnr. Düring

U het op 15 Januarie 2013 N$30 000 onttrek by Monte Casino. U rekening is dus nou oortrokke met N$10 000.

Bevestig asseblief dat die transaksie plaasgevind het.

FNB

Nou maak die dobbelskyfies wat hy in Rosina se laai gevind het, sin…

Hy het haar die vorige keer vergewe en haar gevra om nie weer kasino toe te gaan nie. Sy het belowe. Jan was naïef so die spoor om die bos was kort en Rosina sou lei.

Jan konfronteer vir Rosina en vra haar uit na hierdie banktransaksie. Jan probeer antwoorde uit haar kry, maar sy bewimpel die saak soos gewoonlik. Rosina vertel vir Jan dat dit die naaste OTM was om geld te onttrek. Hy weet nie of hy haar moet glo nie. Sy hart en sy kop stem nie saam nie. Hy gaan saam met sy hart en glo vir Rosina… maar sy was altyd goed daarin om mense te verlei.

***

Dit was n doodgewone aand in die Düring-huis. Die gedagte aan Rosina se moontlike dobbeltoertjies pla Jan. Hy staan op en gaan na hulle kamer toe. Jan loop na Rosina se kas en maak haar laai oop. Hy lig haar netjies gevoude klere op en sit dit op die bed. In die agterkant van die laai sien hy die hoek van ‘n plastieksak met n groen-bruin stof in.

Sonder om die inhoud verder te bestudeer, draai hy om en draf af na die eerste vloer waar die huistelefoon lui. “Naand, kan ek help?” vra Jan benoud. “Hallo meneer Düring, ons het ‘n oproep van die kasino ontvang…

Jou vrou is opgeneem in die ICU by Medikor Hospitaal. Sy is in ‘n koma”. Jan laat val die telefoon, val op sy knieë en kan sy trane nie langer keer nie. Hy dink aan die sakkie in Rosina se laai. Hy hardloop na haar laai toe en bekyk die sakkie. In sy hande hou hy die oorsaak van haar koma. Sonder om twee keer te dink, roep hy die kinders, spring in die kar en jaag hospitaal toe.

***

Jan wag om vir Rosina te sien. Hy het die kinders by die kafeteria laat sit. Hy het nie die moed gehad om baie vrae te beantwoord nie. Uiteindelik kry hy ‘n oomblik saam met haar.

‘Dwaal ek aan die anderkant van die dood rond?’ Rosina Düring verloor op 17 Junie 2013 die stryd teen dwelms en die swart hond van depressie. Haar verwaarloosde man en kinders het haar begrafnis bygewoon. Vanaf die dag van haar opname op 13 Junie 2013, voer Jan ‘n stryd met sy selfverwyt.

Rosina moes met die nagevolge van haar besluite ‘leef’, of sterf. Sy het haarself in ‘n donker tonnel van leuens en dobbel- afhanklikheid geplaas. Die ysterheld was haar god en haar vreugde, maar haar familie se ellende. Sou sy dalk nog dieselfde vreugde aan die anderkant ervaar?

Die pad na my pa Jamin van Zyl Graad 9

Ek loop padlangs,

angstig deur die strate.

Vergaap ek my aan die maanlig,

wat helder op die teerpad reflekteer.

Die pad voel lank en eindeloos,

maar wat kan ek doen?

Ek is bang om die kortpad te vat,

dalk verloor ek myself.

Straatligte flikker,

nie so vining soos my hart nie.

My kompas verloor rigting en

my voete gee in.

Wat gaan om die hoek aan?

Die drie helder oranje liggies verlei my.

Die puff geluid laat my aan my vriende dink,

maar hulle ken nie die pad na my Pa toe nie.

Op die hoofpad na my Pa,

voel ek alleen en vrees omring my.

Ek kyk aanhoudend oor my skouer,

wag ek vir iemand om my in die rug te steek.

Ek dink ek het verdwaal,

maar ek moet bly loop.

My vertroue in my Pa is sonder grense,

want ek weet hy soek na my.

My Pa se huis voel nou nader.

Ek sien hoe die son oor Sy huis loer.

Met my gesig gedraai na die son,

val die skadu agter my.

Hou altyd moedElzaan du Plessis Graad 9

Daar is altyd struikelblokke in die pad

dit maak 'n mens sommer siek en sat.

Dit voel asof die lat

net altyd aan jou wil vat.

Jy gaan seerkry

na iemand soek om jou te bevry.

Maar weet verseker: Jy sal nie vir altyd ly,

vir jou word ook die swaarkry afgesny.

Daar is niks om te vrees,

die Goeie Vader sal altyd by jou wees.

Hy sal jou troos,

niemand weet beter as Hy van jou hart so broos.

Alles gebeur met 'n rede,

soms sleg, maar soms ook goed,

vra in jou hart vir vrede

en hou altyd moed.

'n Vriendin Elzaan du Plessis Graad 9

'n Vriendin sal saam met jou lag en huil

vir jou stap sy 'n ekstra myl,

sy sal jou troos met 'n druk,

totdat jy ophou met snik.

Al jou geheime kan jy vir haar vertel,

sy is mos jou beste pel.

Met haar kan jy jou stories deel

terwyl julle so lekker met mekaar se hare speel.

Al is daar soms 'n stry en baklei,

sal die lewe julle nooit kan skei,

want sy is en was nog altyd die een

wat jou deur dik en dun sal ondersteun.

Wanneer jul soms saam koekies eet

en die wêreld se probleme vergeet,

kan geen skinderstorie julle traak,

dit maak aan jul net eenvoudig nie saak.

Sy is die een wat altyd sal verstaan,

jou rede vir elke traan.

Ja, dít is 'n ware vriendin,

van haar soort is daar bitter min!

Musiek Elzaan du Plessis Graad 9

Elke liriek

wat ons vind in musiek,

vertel ons van 'n storie

van hartseer of glorie.

Dit kan jou laat voel

hoe emosies oor jou spoel

musiek kan vertel

van die lewe se spel.

Sing saam in jou hart

van liefde of smart,

van lag of huil,

oor die waarheid wat agter elke liedjie skuil.

In rustigheid kan instrumente jou streel

as vaardige vingers op harpe speel.

Viool se kind laat jou dans en swaai,

terwyl konsertina jou in die rondte draai.

Musiek is terapie vir die siel,

wanneer dit voel asof tyd jou verniel.

So maak 'n punt daarvan om te luister

wat musiek in jou oor wil fluister.


" 4 Children for Sale - Inquire Within" Elzaan du Plessis Graad 9

Ons was vier. Twee boeties en twee sussies. Ek was die oudste, toe amper ses, dan was dit Sonnet, sy was vier en 'n half, Wikus, hy was drie en dan klein Wouter, so amper-amper twee jaar.

Oorvloed aan aardse dinge het ons nie geken nie, het nie eens geweet dat lekkergoed bestaan nie! Ons was arm, díep arm, maar tog so gelukkig! Om die eerlike waarheid te sê kan ek nie van een argument tussen my en my suster en broers onthou nie, ons het alles - nie dat dit ooit veel was nie - met mekaar gedeel.

Van ons pa kan ek nie veel vertel nie. Hy was net nooit daar nie, altyd iewers......, altyd besig.....

Ons ma...... hoe gaan my hart in verlange en pyn uit na my ma! Nou na jare van seerkry en verwyt, wonder ek of ek ooit die volle omvang van haar pyn sal kan besef. Die beeld ingebrand in my geheue, kan ek nou, byna tien jaar later, met rustige kalmte die prentjie van haar in my geestesoog bestudeer. Ek onthou hoe haar skouers gehang het, hoe die trane oor haar wange gerol het, hoe haar keel toegetrek was en sy amper geen woord kon uitkry nie....., hoe styf sy ons vasgedruk het daardie dag..., die laaste dag wat ons haar gesien het.... Die dag toe sy ons verkoop het.

Ja, VERKOOP het, nie weggegee het nie, nie net voor iemand se deur of op die Kerk se stoep gelos het nie, maar VERKOOP het.

Hoe koppel 'n ma 'n prys aan haar kind? Aan vier van haar kinders? Dit is die vraag wat met soveel haat en selfverwyt en selfbejammering deur my binneste gesny het. Wat was haar prys? Hoeveel het sy vir ons gevra?

Die mense wat ons gekoop het, het aan ons alles gegee waarna 'n kinderhart smag, liefde in oorvloed, genoeg kos en klere, vir die eerste keer het ons uitgevind wat lekkergoed is. Ons het elkeen ons eie bed gekry om in te slaap, skoene gehad om te dra, speelgoed in oorvloed. Soveel meer as waaroor ons ooit kon droom, en daar het ons vir die eerste keer wat ek kan onthou ook oor goed begin argumenteer. Maar hulle was vir ons goed, baie goed, en hulle is dit nog steeds.

Dit was eers hierdie jaar, net na my vyftiende verjaarsdag, dat ons "aangekoopte" ouers besluit het dat ek nou groot genoeg is om die waarheid omtrent daardie dag te weet.

Ons vier het op die trappies voor ons klein, afgeleefde huisie gesit, Mamma het agter ons gestaan. Haar skouers het gehang, sy het so moeg en afgemat gelyk vertel my oom-pa.

Skuins bokant ons koppe het die bord gehang: "4 Children for Sale - Inquire Within".

Oom-pa en Tannie-ma het eers verby gestap, die bord raakgelees en gedink dit is darem iemand met 'n baie verwronge humorsin wat so iets sou doen! Maar tog het iets in Mamma se liggaamstaal hulle 'n uur of wat later laat teruggaan, en daar het ons nog steeds gesit, Ma agter ons, haar gesig nog meer vertrek van hartseer, haar skouers nog krommer.

Oom-pa het besluit hy moet gaan vra hoe sy dit aan haar kinders kan doen.

Hy en Tannie-ma was toe al vir jare kinderloos; hul grootste hartsbegeerte was om kinders te hê en hierdie vrou wil hare sommer so verkoop?

Was ek verbaas toe hul my vertel wat die prys was wat sy aan haar vier kinders gekoppel het!

'n Belofte. Die belofte aan 'n sterwende vrou dat hulle na ons sou omsien asof ons hul eie was, dat hulle ons Godvresend sou grootmaak en ons nooit van mekaar sou skei nie.

Die dokter het ons ma gediagnoseer met kanker, hoe lank sy nog oorgehad het, kon hy nie met sekerheid sê nie, maar hy het haar verseker dat dit nie meer lank sou wees nie.

Haar laaste plig was om vir ons na die beste van haar vermoë, op die buitengewone manier, vir ons 'n geskikte huis te soek.

Hoe ongelooflik groot is moederliefde nie in ongewone situasies nie!

Dankie, Mamma.

Geheueverlies - Trudie Jacobs Graad 11

Emosioneel magteloos is ek – slagoffer!

Geslepe is jy opposisie,

pleeg moord op my gedagtes –

geheueverlies!

Daar is geen vonnis nie,

geen straf ...

Deskundiges en dokters behandel my

soos ‘n dwelmverslaafde.

Dalk ís ek ...

Medikasie kry nie dié seer inhegtenis geneem nie

en die herinneringe wat ek verloor het,

word vermis in nêrens.

Die intensiteit vererger,

my geheue word geminimaliseer tot my kinderjare.

Tronkstraf van my herinneringe van ‘n eens weelde-wêreld

in my kop

word nou in armoede gedompel.

Krimineel, uitdagend staan jy voor my,

sê aanvallig dat jy my ken!

Vertel jy my dinge waarvan ek niks weet nie.

Jy, redder van my verlore gedagtes?

Ek kla jou aan van inbraak en diefstal!


Probleme - Adeswa !Hoaes Graad 11

Probleme kom en gaan,

maar tog probeer ek nog bly staan.

Die uitlig van ‘n dooie siel het nog nooit

so helder geskyn nie,

want my gedagtes is verlore –

ek oorweeg selfmoord ...

My gedagtes skeur deur my hart.

Wanneer my laaste lamp geblus word,

sal daar net ‘n bloedkol agterbly.

Ek is ‘n ma wat met haar kind

in haar hande gevou

langs die pad sit.

Wie gaan my help?

Die ryk mense?

Die regering?

Ons sondes is so diep,

‘n verband kan nie meer die pyn verlig nie.

Ek staan gekruisig

deur my finansiële probleme.

Dit is moord,

maar niemand sien dit raak nie en

niemand gee meer om nie.


Menseregte - Jessica Beddies Graad 11

‘n Regverdige epidemie van stemming,

ongeag ontkenning.

Mense word inhegtenis geneem

en verander in eksperimentele rotte.

Hulle het nie eers stemreg nie.

Hulle praat oor infrastruktuur,

maar daar is mense sonder huise

terwyl ander in paleise woon

en onder mekaar eenvoudig kloon.

Menseregte word soos aborsie

roekeloos misbruik.


Depressie - Danielle Kok Graad 11

Jy klou my vas soos Donkernag

wanneer smart ontplof En

my siel verdof.

Jy wasem leë woorde van Pyn, van smart ...

Jy’s die pikswart Roet wat kors om my hart.

Êrens, ver agter,

verloor jy my soos niks.

My lewe verdwyn Spoorloos soos stilte –

dis jy!

Jy Span my toe tussen lyne!

Dis jy, Inbreker,

jy vat alles wat myne is -

vir altyd

vir ewig!

Ewige grys einde ...


Geweld lê dieper as wonde - Gerna de Klerk Graad 11

Geweld lê dieper as wonde en

dikwels geskonde is die hart deur sonde.

Media besmet met Vigs, moord en armoede.

Die vonnis vir wraak en woede.

‘n Kind huil onwetend seer

oor die honger wat in sy hart skeur.

Gemeenskappe vlug van hul land na ‘n ander –

gehoop omstandighede sou verander.

Met drome in ‘n vuur versmoor,

word hul weerloos vertrap en wreed vermoor.

Dof tref ‘n koeël onskuldige weefsel en bloed –

Só word geweld gevoed.

‘n Enkele woord uit ‘n koningsmond

en die moorde duur voort

Is dit Vader hoe dit hoort?

Geweld is soos ‘n oopgevlekte wond,

maar dit lê dieper

en word nooit regtig gesond.


AGTERUITGANG - Lelanie Steyn Gr 11

Ons selfone is koordloos.

Voertuie is sleuteloos en bande binnebandloos.

Voedsel word kalorieloos, voorbereiding, vuurloos.

Rokke is mouloos, houdings is gevoelloos.

Vrouens is vreesloos, hul gevoelens harteloos.

Verhoudings word doelloos en babas is vaderloos.

Jeugdiges kies werkloos, leiers kies skaamteloos.

Onderwys word waardeloos en kinders

manierloos!

En ek?

Ek is sprakeloos!



Hou by jou woord - Hanri du Plessis Graad 11

Hoe kan iemand sê

hul weet presies wat hul wil hê,

maar môre draai hul storie weer en

dan verander hul sommer so van kleur?

Kan jy met jou gewete saamleef

as aan elke woord ‘n leuen kleef?

Wanneer gister se woorde gewig moet dra,

sal jy daarby hou wanneer ek vra?

Beloftes maak skuld, so lui die idioom,

met waarheid kan ‘n mens tog groot drome droom.

So hou by jou woord,

dan loop ek akkoord.


Afrikaans ons taal - Handri du Plessis Gr 11

Met ons taal kan ons speel,

met woorde ons gedagtes deel -

woorde gevul met lief en leed en

woorde wat keer dat ons vergeet.

Geen ander taal het ‘n pampoen,

het biltong, wondpomp of perlemoen.

Net ons het bobotie en die Karoo,

net ons ken die stryd van Taal-oorloë.

Ironies is die lewe tog

dat almal met alles in Engels wil spog.

Pleks veg elkeen vir sy eie taal,

nou wil Japies alles in Engels loop haal.

Afrikaanssprekendes moet opstaan en baklei

vir die reg om ons taal se plek terug te kry.

Die toekoms van Afrikaans is op die spel,

dis mos nóú die tyd

om ons taal se leisels op te tel.


Tyd Hanri du Plessis Graad 11

Somtyds,

wanneer die lewe my tref

en ek die realiteit besef,

is daar geen woorde om te beskryf en

vries alles in my kop stokstyf.

Die Vader het Sy manier

om my stil te maak en my te laat luister ...

om sonder woorde, in stilte

te wag vir Sy genade.

Vir elke ongelyke pad,

elke berg en dal en stad,

verskaf Hy krag en hoop

om die pad,

hoe moeilik ookal,

enduit te loop.

Dis seker makliker gesê as gedaan,

om die hoekoms en die waaroms te laat staan.

Wanneer een uur soos ‘n ewigheid voel,

wanneer wanhoop soos ‘n waterval oor my binneste spoel.

“Hou moed!”

Dis wat my hart vir my sê -

“Maar hoe?”

Dis die woorde wat in my kop kom lê.

Tyd sal leer en

tyd sal kom

om die onderstebo

weer reg om te keer.


Graad elf Hanri du Plessis Graad 11

Die toekoms

is vol hoekoms en

“wat wil jy gaan word?”

Dáárdie is ‘n antwoord wat ek nog kort.

Wat wil ek gaan doen met my lewe?

Word my verkeerde keuses my vergewe?

Dit wat ek nou doen, sal bepaal

wat ek eendag gaan behaal.

Hulle sê jy moet al in graad elf

vir jou beroepskeuses begin delf.

Dit plaas enorme druk op jou,

soveel so dat jy inmekaar wil vou.

Weeklikse afspraak by die dok,

in my kop voel alles geblok.

Plaas my op medikasie vir stres,

‘n tekort aan vitamine asook die res!

Ek dink ek moet myself dood verklaar.

Ma en Pa troos: “Ons was ook daar!”

Werk en werk en nog meer werk -

wánneer het die onnies tyd om alles te merk?

Uithouvermoë moet ek van iewers kry

en as als verby is, glo vir my,

sal ek sê dat ek het dit ook gemaak en

dan noem ek dit ‘n afgehandelde saak!

Onreg - Hanri du Plessis Graad 11

Behaal jy nie sukses nie,

ly jy aan depressie.

Dan word selfmoord oorweeg en

soms selfs gepleeg.

Wat van al die skade,

die verlore genade?

Mense word ontvoer,

‘n kind, ‘n ma, ‘n broer.

Wie het raad

vir al die misdaad,

vir die geweld

en die misbruik van staatsgeld?

Nuus en koerante

wemel van verraad en skande.

Mense word op grond van hul geloof gestraf en

hul liggame gegooi in ‘n massagraf.

Met baantjies vir boeties wat niemand kan keer,

word familie en vriende in gesagsposisies genomineer.

Na ander lande wil almal trek,

gaan soek ‘n veilige hawe op ‘n ander plek.

Waarvoor wil ons tog almal veg?

Diep binne weet ons mos wat is verkeerd en wat is reg.

Ons moet die vlag van geweld stryk

as ons die kruin van vrede wil bereik.