Mej Edugate 2017 Briljantjies besoek hoenderboerdery Senior CRS 2018 Opleidingskamp Junior CRS 2018 Leierskapopleiding Fietsrypretdag
Edugate

You are here: Akademie / Briljantjies

Briljantjies

Vorm die beste pot met die klei in jou hande

Ons was almal kinders, het kinders, of is of was betrokke by kinders. In gesinsverband is die eerste vyf jaar van ‘n kind se lewe die belangrikste. Dan word die basis vir die ontwikkeling van sy karakter gelê deur sy ouers. Versorgers en onderwysers bou hierop voort. Klein kindertjies is soos sponse, wat alle inligting absorbeer, waaraan hulle ouers of onderwysers hulle blootstel. Dit beklemtoon die verantwoordelikheid wat elke ouer teenoor sy kind het.

In die ouerhuis leer ‘n kind hoe om ander te behandel of met ander te kommunikeer. Wanneer hy/sy skool toe gaan, is hierdie vaardigheid van groot belang en maak dit sy aanpassing baie makliker. Die feit is egter, die kind is ‘n individu met ‘n eie persoonlikheid en moet gehelp word om die nodige selfvertroue aan te leer om te waag en dinge self te doen. Skep so ‘n veilige omgewing vir die kind; waarin hy berekende kanse kan waag.

Monkey see, Monkey do,

‘n Ouer is die beste rolmodel vir sy kind. Van kleins af neem kinders waar hoe ouers optree en toon dan later dieselfde gedrag. Baie keer is mens geskok oor iets wat jou kind doen, maar as jy daaroor nadink, is dit duidelik dat hy bloot iemand se voorbeeld navolg. Kinders leer baie meer uit wat hulle sien as wat hulle hoor. Woorde wek, maar voorbeelde trek.

As jy sekere grense afbaken, gaan dit jou selfbeheersing leer. Grense help om die regte keuses te maak. Daar moet aanvaar word dat kinders grense sal toets, want hulle is besig met ‘n ontdekkingsreis en om te leer om op hul eie bene te staan. Dit is deel van die menslike natuur om in beheer van dinge te wil wees, eerder as om deur iemand anders beheer te word. ‘n Kind moet egter leer dat ‘n mens die gevolge van jou dade moet dra.

Kinders en hul ouers

Ek voel veilig wanneer ek weet wat ek mag doen en wat nie

Lê duidelike reëls vir kinders neer. ‘n Kind moet van kleinsaf bewus gemaak word, dat daar sekere reëls is wat hy moet hou en wat hy moet aanvaar, om eendag makliker op sy eie oor die weg te kom. Ook dat die reëls tot sy eie voordeel en veiligheid is. Die belangrikste vrae wat ouers enige tyd moet kan beantwoord, is: “Waar is my kind?” “Wie is by my kind?” As jou kind van kleinsaf sekere reëls geleer het, gaan dit hom verantwoordelik maak en help om sy eie reëls vas te stel.

As jou reëls vandag tot dag verskil of as jy net soms die reëls toepas, gaan dit jou eie skuld wees as jou kind nooit binne die reëls bly nie. Een van die belangrikste sleutels tot dissipline is konsekwensie. Jou kind moet leer wat is onderhandelbaar en wat nie. As jou kind agterkom jou reëls is op wysheid gegrond en nie bloot om mag af te dwing nie, sal hy al hoe minder daarteen skop.

Verduidelik jou reëls en besluite aan jou kind. Ouers het verwagtinge waaraan hulle wil hê hul kind moet voldoen. Dis nodig om aan jou kind duidelik te maak, waarom jy op sekere maniere reageer en waarom jy bepaalde reëls toe pas. Wat vir jou voor die handliggend is, kan dalk nie vir die kind duidelik wees nie.

Respek soos goeie maniere, maak deure oop

Behandel jou kinders met respek. Die beste manier om te verseker dat jou kind jou met respek behandel, is om hom met respek te behandel. Jou kind verdien dieselfde respek wat jy teenoor ander mense betoon. Bied aan jou kind die kans om sy mening uit te spreek en wees vriendelik en hoflik met hom. As jou kind met jou praat, staak dit waarmee jy besig is en kyk hom in die oë. Luister REGTIG. Moenie huiwer as jy jou kind ‘n guns kan doen nie. Kinders sal ander mense behandel soos hulle ouers hulle behandel. Die verhouding tussen jou en jou kind vorm die grondslag vir hul verhoudings in die toekoms.

So sien ons dat ons kinders leer deur wat hulle sien, hoor en beleef. Hulle kan na-apers of manupileerders wees en gou sien wie sag is en wie kanse vat. As die messelwerk van die ouers en onderwysers goed gedoen word, sal die stene van opvoeding ‘n volwaardige, toegeruste individu.

‘n Laaste gedagte. Niks kan ‘n ouer se liefde vir sy kind vervang nie. Dikwels verwar ouers liefde met iets anders. Dalk as gevolg van hoe hulle grootgeword het en nou wil hulle daarvoor kompenseer. Die beste manier om jou liefde vir jou kind te betuig, is: aandag, warmte, omgee, aanraking, mooi woorde en begrip. Dit is nie bederf nie. Jy kan net ‘n kind bederf as jy hom iets in die plek van liefde gee soos geld, ‘n speelding of eetgoed. ‘n Kind kan net goed oor homself voel as sy ouers met hom/haar speel en hy/sy bewus is van die liefde wat sy ouers vir hom koester.


Televisie versus Speel

In graad 1 was hy die outjie wat gespot is omdat hy nie ‘n bal kon raakvang nie - en dan droewig begin huil het. Hy het met grootmotoriese vaardighede gesukkel, wat onder meer dinge soos skop en vang beinvloed. Maar teen die tyd dat hy in graad 7 was, was hy ‘n uitblinker in sport en hoofseun van ‘n skool met 1000 leerders (Vir Pasella se Dieter Voigt was die draaipunt in graad 4 en sport was sy wegspringblok. Vandag moedig die rolmodel kinders aan om te beweeg)

Hierdie onderwerp lê my ook baie na aan die hart en daarom het ek besluit om hierdie artikel daaroor te skryf. Ek is ook ‘n mamma van ‘n 19 maande oue dogtertjie en ‘n 5 jarige dogtertjie en daar is sekere gedragspatrone wat ek by my kinders optel as dit kom by genoeg speel en slegs voor die televisie deurbring. My twee dogtertjies raak op ‘n plaas groot en daar is meer as genoeg beweeg ruimte vir hulle. Pappa het ‘n groot klimraam gesweis, daar is ‘n sandput, ‘n trampolien, elkeen het haar eie fietsie en dan is daar nog ‘n vierwielmotorfiets ook en my dogtertjies is in hul sewende hemel as hul buite kan speel. Hierdie afgelope Mei vakansie besluit ons om vir Oupa en Ouma in Hentiesbaai te gaan kuier, maar natuurlik vang ons toe die koue weer en “buitespeeltyd” was daar maar min en mamma moet vir twee dogtertjies in die huis besig hou. Daar word geverf, geteken, legkaart gebou, pophuis in die motorhuis gebou en natuurlik ook televisie gekyk. Die eerste twee dae het dit goed gegaan, maar toe begin die moeilikheid. My twee dogtertjies begin baklei, trek mekaar se hare, slaan aan mekaar en begin sommer allerhande negatiewe gedragspatrone toon. Met pappa wat op die plaas is en mamma wat alleen met die kinders moes sukkel wou ek later my hare uit my kop trek. Nadat ek mooi oor die saak gedink het en eers besef het dat ek twee plaaskinders in ‘n klein huisie in Hentiesbaai wil inhok het ek besluit om die eerste ding weg te neem wat ek dink hul dalk agresief kan maak en dit was die televisie. In plaas van televisie kyk het ek liewers vir hul stories gelees en daar was feitlik onmiddelik ‘n verandering in my kinders se gedrag.

Oor die redes kan lank en breedvoerig uitgewei word. Kinders speel nie meer nie. Veiligheidsoorwegings veroorsaak dat hulle nie meer vryelik op fietse kan kerjakker en skool toe stap nie. Selfone, TV en rekenaars is hul gunstelingsmaniere van ontspan. Oorwerkte ouers misluk boonop om kinders gesonde oefen en eetgewoontes te leer. En die gebrek aan balans in ons eie lewe speel oor na ons kinders toe.

Ouers en onderwysers moet saamwerk om hierdie probleem te verminder.

Skole is geneig om te veel op kinders met sporttalent te fokus in plaas daarvan dat hul die outjie wat glad nie van sport hou nie te betrek sodat hy/sy later ‘n liefde vir sport ontwikkel. Kinders wat nie in sport presteer nie, wat die meerderheid is, moet ook betrokke raak by speel en oefen.

Ons kinders se eetgewoontes is ook ‘n groot probleem. Onthou, oefening sonder gesond eet, is soos dans sonder musiek. WENK: Mammas moet seker maak daar is gesonde kos in die huis. “Jou kind sal net chips eet as hy toegang daar toe het”

Beweeg saam met jou kinders:

Jou voorbeeld is belangrik. Kom ons as ouer staan self van die rusbank af op en moedig jou kinders aan om saam met jou te beweeg.

Hier is ‘n paar wenke:

·Speel saam met hom fisieke speletjies. Laat hom perdjie ry op jou rug, of slaan ‘n paar tennisballe.

·Blaas ‘n ballon op en kyk hoe lank julle dit in die lug kan hou.

·Speel verskillende speletjies met hoepels.

·Gooi balle vir mekaar.

·Maak reëls oor “TV-Skermtyd”

·Moedig hom/haar aan om boom te klim.

·Bou saam met jou kind paadjies in die sand.

Ek sê nie dat TV kyk slegs negatief is nie. Daar is ook positiewe punte rondom TV kyk. Kinders wat televisie kyk tel sekere, veral engelse woordeskat weer baie vinnig op asook ‘n goeie algemene kennis, maar solank daar ‘n tyd aan verbonde is en solank u kind meer speel as wat hy/sy voor die televisie, selfoon of rekenaar deurbring.

Kom ons begin om weer met ons kinders te speel!!!